Van ‘living hell’ tot ‘goeie dinge’ – Die lewe in Tannie Gladys se huis

Van ‘living hell’ tot ‘goeie dinge’ – Die lewe in Tannie Gladys se huis

Datum: 29 Junie 2020

Deur: Care Protect Invest SA

“Toe hy die ander dag saam met die ‘maatskaplik’ weg is vir ‘n naweek, huil ek so verskriklik want ek gaan so verlang. En hy sit en lag vir my omdat ek huil.”

Mens kan kwalik glo dit is dieselfde dertienjarige wat die einste Gladys se lewe tien jaar gelede “’n living hell” gemaak het.

“Hy was nog klein, dan haal hy ons selfone heeltemal uitmekaar. En sit dit weer aanmekaar,” vertel Gladys, ‘n pleegouer van Rawsonville in die Wes-Kaap. “As ek in die nag wakker word, dan is hy nie in sy kamer nie en moet ek en my man hom gaan soek. Dan speel hy buite in die straat.

“Maar, die ergste was wanneer hy iets soos brood in sy bababoetie se rigting gemik en dan gesê het: ‘Ek skiet jou vrek’.”

As mens in gedagte hou waaraan dié driejarige seuntjie in daardie stadium van sy lewe reeds blootgestel was, is dit tog verstaanbaar dat hy anders as normale kleuters sou optree.

Gladys is ‘n pleegouer vir ses kinders tussen die ouderdomme van nege en 15 en ‘n gestremde familielid van 18. Haar Toekomstuiste pleeghuis is een van die huise onder Care Protect Invest SA se sorg.

Die kinders help haar in die tyd van inperking om kinders, bejaardes en enkelouers van kos te voorsien, daar waar die nood net al hoe groter word. Hulle maak van vroegdag sop en vetkoeke, toebroodjies en soms bederfpakkies – as daar ‘n skenking daarvoor is.

Dit gaan meestal maar baie moeilik om te voorsien in die groeiende behoefte wat Rawsonville elke dag sien. Die maatskaplike euwels neem ook toe en Gladys droom daarvan om haar huis te omskep in ‘n plek van veiligheid sodat sy ook vir ander kinders kan sorg soos wat sy vir hierdie seuns gedoen het.

“Sy ma het hom die dag net hier kom aflaai en gesê ek moet net vir ‘n maand na hom en sy boetie kyk,” vertel Gladys. “Maar ek het nog vir my man gesê: ‘Ons sien daai vrou nie weer nie’. Al hulle kliniekkaarte en sertifikate het saamgekom”.

Die ma het inderdaad eers ses maande later opgedaag op soek na haar kinders. Gladys het haar na die maatskaplike werker verwys. Dié het vasgestel dat sy uit die rehabilitasiekliniek waarin sy opgeneem is vir dwelmmisbruik, weggedros het. Die kinders het by Gladys gebly.

In daardie tyd het Gladys uitgevind dat die boeties fisies aan moorde blootgestel is deur hulle pa. Hy was by bendes betrokke.

“As ek nog by my ouers gebly het, sou ek seergemaak word en op die verkeerde pad gewees het,” sê die seun. “Tannie Gladys gee vir ons om en gee vir ons net liefde. Sy is my ma en dis baie lekker om by haar te bly.”

Sy toekomsplanne reflekteer die groot rol wat sy in hulle lewens speel.

“Wanneer ek groot is sal ek graag films wil maak en optree,” sê hy. “Movies om mense te help om goeie dinge te doen.

“Ek rap nou al. Dit gaan meestal oor hoe mense van gangsters moet wegbly en goeie goed moet doen”.

*Die seun se naam word om veiligheidsredes nie verstrek nie.