Toekomstuiste-pleeghuis in Pretoria ruk vanjaar ‘n haas uit ‘n hoed

Die paashaas het vanjaar vroeg sy verskyning gemaak en pleegkinders van Toekomstuiste in Pretoria reeds op Woensdag, 31 Maart 2021, met ‘n prettige dag kom verras.

Volgens die uitvoerdende hoof van Care Protect Invest Suid-Afrika (CPI-SA), Dinah Bronkhorst, het die weldoener Léan Jacobs die inisatief geneem om fondse vir dié dag te in deur ‘n liefdadigheidswedren vanaf Pretoria na Johannesburg verlede Sondag aan te bied. ‘n Verskeidenheid karre het hieraan deelgeneem, van veteraanmotors, opgeboude versnelmotors tot splinternuwe voertuie.

“Ons paasfeestema het gevolgelik hierdie jaar ‘n ‘drag racing’ tema aangeneem. Die kinders was in vervoering en is met snoepgoed en aktiwiteite bederf. Daar was onder andere ‘n wedrenbaan waar kinders met speelgoedkarretjies kragte kon meet. Die fondse wat Léan vir Toekomstuiste ingesamel het was oorgenoeg om selfs ‘n bydrae tot die instandhouding van die pleeghuis te maak,” vertel Bronkhorst.

Toekomstuiste huisves tans ses kinders tussen die ouderdom van drie en tien jaar. Meerendeels woon daar boeties en sussies van dieselfde gesin. Volgens Bronkhorst is Toekomstuiste ‘n suksesvolle voorbeeld hoe ‘n intieme tuiste vir pleegkinders geskep kan word.

“Kinders hier voel veilig, geborge en geliefd. Ek wens ons almal kon dieselfde wegspringblokke in die lewe gehad het, maar vir hierdie groepie kinders is die realiteit anders. Ons pleeghuise sorg dus dat hulle alles denkbaar ontvang sodat hul ook hul toekoms met krag en woema kan aanpak! CPI-SA is dankbaar vir individue en instansies wat ons onbaatsugtig ondersteun,” sê Bronkhorst.

CPI-SA se Toekomstuiste-pleeghuis in Pretoria bied ‘n veilige tuiste waar kinders kan speel, ontwikkel en leer. Indien dit op u hart druk om ‘n R20-donasie te maak kan u die woord TUISTE sms na 40112. Of besoek https://cpi-sa.org.za en kyk hoe u ‘n verskil kan maak.

Vir media navrae kontak: 

Dinah Bronkhorst – Uitvoerende Hoof

Sel: 072 126 1158