Ons leef in ’n era waar verbruikers gebombardeer word met inligting. Kennis en inligting word via sosiale media en die internet tussen miljoene verbruikers regoor die wêreld gedeel en lê die funksionering van klein en groot ondernemings bloot. Besighede moet besef dat ’n groter gehoor deelneem aan hulle bedrywighede.
Deesdae moet maatskappye standpunt inneem oor belangrike maatskaplike kwessies om ’n handelsmerk te bou wat verbruikers vertrou en respekteer. Om suksesvol te wees, moet alle ondernemings meer doen as om net sterk winsgrense na te jaag; om maatskaplik verantwoordelik te wees, is deel van die oorlewing van ’n besigheid in die hedendaagse ekonomie. Die doel van korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid is om terug te gee aan die gemeenskap, deel te neem aan filantropiese sake en positiewe maatskaplike waarde te bied. Maatskappye moet ook maatskaplike en omgewingskwessies integreer in hulle sakebedrywighede en interaksies met hulle belanghebbendes.
Korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid kan intern bestuur word, of deur ’n vennoot wat help om ’n waardevolle program te skep. CPI SA is ’n openbare liefdadigheidsorganisasie wat geregistreer is as ’n maatskappy sonder winsbejag. Ons kennis van die maatskaplike omgewing is omvattend en relevant. Ons spesialiseer daarin om waarde toe te voeg tot voordeel van beide ons vennote en begunstigdes.
Wat dra ’n program vir maatskaplike verantwoordelikheid tot u onderneming by?
- ’n Goedbestuurde maatskaplikeverantwoordelikheidsprogram sal waarde toevoeg tot die blootstelling van u onderneming.
- As u die maatskaplikeverantwoordelikheidsprogram van u onderneming koppel aan u publisiteits- en mediastrategie, skep dit moontlikhede vir nuwe veldtogte en bemarkingsgeleenthede.
- Om ’n maatskaplik verantwoordelike onderneming te wees, kan die beeld van ’n onderneming versterk en sy handelsmerk opbou.
- Maatskaplike verantwoordelikheid bemagtig werknemers om die korporatiewe hulpbronne tot hulle beskikking te benut om goed te doen.
- Formele korporatiewe maatskaplikeverantwoordelikheidsprogramme kan werknemersmoraal verhoog en tot groter produktiwiteit in die arbeidsmag lei.
- Maatskappye wat maatskaplik verantwoordelike beleide instel, doen reeds heelwat om kliënte te lok en te behou, wat noodsaaklik is vir die langtermynsukses van ’n onderneming.
Maatskappye verhoog toenemend hulle fokus op maatskaplike verantwoordelikheid, of dit nou behels om hulle vir vroueregte te beywer, die omgewing te beskerm of te probeer om armoede op plaaslike, nasionale of wêreldwye vlak uit te wis. Maatskaplik verantwoordelike ondernemings projekteer aantrekliker beelde vir verbruikers sowel as aandeelhouers, wat ’n positiewe uitwerking op hulle netto inkomste het.
Maatskaplike verantwoordelikheid en etiese praktyke is van kardinale belang vir u sukses. Die 2015 Cone Communications/Ebiquity Global CSR-studie het bevind dat ’n verstommende 91% van wêreldwye verbruikers verwag dat ondernemings verantwoordelik sal werk om maatskaplike en omgewingskwessies aan te spreek. Verder sê 84% dat hulle waar moontlik verantwoordelike produkte uitsoek.
Soos die bostaande statistieke toon, is verbruikers toenemend bewus van die belangrikheid van maatskaplike verantwoordelikheid. Baie individue sal met graagte meer betaal vir goedere as hulle weet dat ’n deel van die winste sal gaan na maatskaplike sake wat hulle na aan die hart lê. Verbruikers soek ook aktief produkte uit van ondernemings wat eties werk. MVO toon aan dat u ’n onderneming is wat belangstel in breër maatskaplike kwessies, eerder as net dié wat u winsgrense beïnvloed. Hierdie beeld sal kliënte lok wat dieselfde waardes deel.
Daarom is die manier waarop ons ons donateursfondse hanteer onteenseglik oordeelkundig en gefokus.
Ondernemings kan eweneens getuig van groter voetverkeer as hulle die plaaslike gemeenskap verbeter. CPI SA bied ’n omvattende maatskaplikeverantwoordelikheidsdiens aan individue en instansies om unieke oplossings te skep wat u plaaslike gemeenskap direk beïnvloed, bewusmaking skep en u teikenmark bereik. Ons unieke model kan naatloos, moeiteloos en suksesvol binne ’n organisasie of onderneming se raamwerk geïmplementeer word.
CPI SA lei ’n organisasie of individu om hul jaarlikse maatskaplike begroting ten beste aan te wend tot hulle optimale voordeel.
Ons sewe doelstellings (Humanitêr, Gesondheid, Onderwys, Taal/Kultuur, Grond/Behuising, Omgewingsbewaring en Dierewelsyn) bied omvattende voordele aan ondernemings en kan omskep word in ’n volhoubare belegging. Ons verstaan die kern van u besigheid en die belangrikheid van u finansiële produksie. Daarom wil ons vir u onderneming ’n deursigtige, doelgerigte program vir maatskaplike verantwoordelikheid skep wat maksimum waarde genereer.