“Hard words where no one can hear, blows where no one can see it, a non-existent self-esteem’’.
Hierdie is die werklikheid van miljoene vrouens wêreldwyd. Dis geen geheim dat geweld teenoor (veral) vrouens en kinders ‘n enorme probleem in Suid-Afrika is nie. 1 Uit elke 5 vrouens ondervind een of ander vorm van huishoudelike geweld, terwyl 42% van meisies vorms van geweld aanmeld, waaronder seksuele geweld, fisiese geweld, emosionele mishandeling of verwaarlosing. Dis slegs die gevalle wat aangemeld word.
Dis ook die rede waarom Corléa Botha, in samewerking met Mamilla Fashions, die Genadesak Projek begin het, en Care Protect Invest SA daarby ingeskakel het.
Die doel van die projek is om nuwe of gebruikte handsakke (wat steeds in ‘n goeie kondisie is), te vul met toiletware en dit aan Care Protect Invest SA te skenk. ‘n Lys van die inhoud van die handsakke is reeds saamgestel volgens die behoeftes van huise van veiligheid. Die handsakke word dan aan Care Protect Invest SA verskaf, en ons voorsien dit aan vooraf geïdentifiseerde huise van veiligheid.
Dames in gemeenskappe word versoek om ons te help om soveel as moontlik handsakke in te samel. Jy kan selfs ‘n damestee of funksie hou, al jou vriendinne nooi om handsakke saam te bring na die byeenkoms, en dit aan Care Protect Invest SA skenk. Hierdie gebaar gee vir ‘n vrou wat ontvlug het uit haglike omstandighede, weer ‘n gevoel van selfwaarde, om iets te hê wat haar eie is.
Die dapper vrouens wat die besluit geneem het om JA te sê vir ‘n beter lewe, is een stap nader aan ‘n splinternuwe lewe waar hulle die hulp en leiding ontvang om nie weer in die web van geweld vasgevang te word nie. So word die siklus van geweld gebreek en word generasies positief verander.
‘n Afsetgebied vir handsakke en/of inhoud is ook beskikbaar by The Workshop, The Avenues, Dramastraat 1, Somerset-Wes. Ondersteun gerus hierdie kreatiewe spasie waar kuns & naaldwerkklasse aangebied word in ‘n prettige en pragtige omgewing. Kontak vir Melissa Dietstein by 0824407608.