CPI SA stel Onsigbare Vrou kompetisie bekend

Mediaverklaring

Care Protect Invest – South Africa

8 Augustus 2020

CPI SA stel Onsigbare Vrou kompetisie bekend

Op die vooraand van Vrouedag nooi CPI SA vroue om deel te neem aan die Onsigbare Vrou kompetisie waarin Genadesakke vir mishandelde vroue ingesamel word. 

Met die Genadesakke Projek word vroue aangemoedig om handsakke – oud of nuut – wat gevul is met enigiets wat ‘n mishandelde vrou se lewe kan vergemaklik wanneer sy uiteindelik ontsnap, te skenk. Die projek is ‘n samewerking tussen die bekende sangeres Corlea, Mamilla Fashions en Project Brave Heart en word bestuur en geadministreer deur CPI SA. 

“In Suid-Afrika leef duisende vroue daagliks in vrees vir die volgende harde woord waar niemand dit kan hoor nie en die volgende hou waar niemand dit kan sien nie,” sê Dinah Bronkhorst, die uitvoerende hoof van CPI SA. “Hulle kan nie vlug nie, want hulle het niks. Hulle word eintlik onsigbare vroue.”

Volgens die jongste misdaadstatistiek was huishoudelike geweld in 38 656 gevalle die oorsaak van kontakmisdade soos aanvalle met die doel om ernstige beserings te veroorsaak, poging tot moord en moord. 

Met die kompetisie word vroue aangemoedig om ‘n onsigbare vriendin vir hierdie onsigbare vroue te word, deur ondersteuning te bied sodat hulle uit ‘n gevaarlike situasie kan ontvlug. 

Vroue wat wil deelneem kan op die webblad by https://cpi-sa.org.za/genadesakke-projek/ inskryf. CPI SA kan by 012 111 8039 gekontak word om die Genadesakke af te lewer. Daar is op die webwerf ook meer inligting oor maniere om meer betrokke te raak by die kompetisie. 

Pryse ter waarde van R10 000 is op die spel en die kompetisie sluit op 31 Oktober 2020. 

Vir media navrae kontak: 

Dinah Bronkhorst – Uitvoerende Hoof

Sel: 072 126 1158