CPI SA se Genadesak-projek, wat by die sangeres Corléa en Mamilla Fashions ontstaan het, het ten doel om mishandelde vroue iets mooi en prakties in ’n baie moeilike tyd te gee.
Hierdie handsakke word aan slagoffers van die gruweldade gegee wanneer hulle by sentrums aankom wat bystand verleen. Slagoffers word hier deur ’n mediese dokter ondersoek; verklarings word geneem, en hulle ontvang waardevolle berading solank hulle dit nodig ag.
CPI SA ondersteun graag plaaslike nie-winsgewende organisasies wat sy doelwitte deel: Om ’n verskil in die lewens van alle mense te maak, om hulle op te hef en te help.
“Een uit drie vroue sal gedurende hul leeftyd een of ander vorm van mishandeling ervaar, of dit fisies of emosioneel is. Die doel van hierdie projek is om hierdie groep vroue te bereik en vir hulle iets kleins te gee om hul waardigheid te herwin,” het Melani Lategan, CPI SA Projekkoördineerder, gesê.
“Genade is so ’n mooi woord, maar dit is ook ’n werkwoord. Raak betrokke. Om ’n groot verskil te maak, verg net een klein gebaar.”
Vul ’n goeie kwaliteit tweedehandse sak met enige van die volgende items: gesigwas, dag- en nagroom, lyfwas, waslap, haarprodukte en borsel, deodorant, Dettol, handeroom, gesigsponse, wipes, sanitêre doekies, tandeborsel en -pasta , vlos, skeermesse, klein pakkie waspoeier en ’n lekkerny (geen sjokolade of enigiets wat kan smelt nie).
Indien jy ’n sak of items wil skenk, kontak asseblief vir Melani Lategan by 0615316500, of stuur ’n e-pos na melani@cpisa.org.za