CPI SA vier Internasionale Aannemingsdag

Care Protect Invest South Africa (CPI SA) vier Internasionale Aannemingsdag en hoop om bewustheid oor aanneming in Suid-Afrika te kweek. Dié spesiale dag bied ‘n opvoedkundige geleentheid om families tydens die aannemingsproses te ondersteun. Ambassadeurs van regoor die wêreld ondersteun Internasionale Aannemingsdag en kan getuig van die wonder en liefde van families wie deur aanneming bymekaar gebring is.

Hank Fortener, die stigter van die aanneming-skarefinansieringsplatform, AdoptTogether, het Internasionale Aannemingsdag in 2014 begin. Hy wou een dag in November gebruik om mense bymekaar te bring ter ondersteuning van ‘n missie: “’n Wêreld met geen weeskinders nie, ‘n gesin vir elke kind.” CPI SA ondersteun hierdie missie.

Die uitvoerende hoof van CPI SA, Dinah Bronkhorst sê aanneming skep vir ’n weerlose kind die ruimte om te leef. Sy deel die volgende storie wat haar diep geraak het: “’n Ruk gelede gaan haal ons ’n klein seuntjie by die hospitaal – sy mamma is oorlede aan kanker.  Ek herken die maatskaplike werker en merk die klein, skraal blonde seuntjie langs haar op. Skouertjies in mekaar getrek, koppie hang laag, sy vingertjies klou spierwit aan ’n vuil ninja rugsakkie vas, sy enigste besitting. Ek groet die maatskaplike werker en gaan sit langs die klein mensie: “Sjoe, jy het ’n mooi sak,” sê ek. Toe kyk daardie kindjie in my oë en sê: “Tannie my mamma is dood,” en ek sien rou seer en vrees in daardie ogies.

 “’n Huis beteken soveel meer as ’n dak oor ons koppe. Vir ’n kind beteken dit genoeg kos om te eet, ’n pleister as hy of sy seerkry en ’n warm bedjie om in te slaap. Die basiese behoeftes van kindwees wat nie noodwendig binne die mure van luuksheid of armoede gevind word nie. ’n Kind wat grootword in ’n tuiste wat gevul is met geduld, liefde en omgee, is geanker binne die mure van gesin stabiliteit, sekerheid en geborgenheid.

Aanneming skep ’n tuiste wat gevul is met aanvaarding, ‘n lewe gevul met uitbundig lag, giggel-pret en ’n kas met ’n naam op, waarin daardie blonde seuntjie sy vuil ninja rugsakkie kan uitpak – want hy het weer ’n plekkie waar hy behoort.” sê Bronkhorst.

Vir almal wie se lewe deur aanneming aangeraak is, is 9 November ‘n uitstekende geleentheid om verhale en kosbare herinneringe te deel. Ander maniere waarop jy kan kies om die dag te vier, sluit in:

  • Deel jou persoonlike verbintenis met aanneming, tesame met ‘n foto van ‘n glimlaggesiggie op die palm van jou hand en gesels oor wat Internasionale Aannemingsdag vir jou en jou familie beteken.
  • Om vandag die geboorte-kultuur van internasionale aangenomes te vier deur ‘n maaltyd van hul land van herkoms voor te berei, ‘n kultuurfees by te woon, ‘n boek saam te lees oor hul geboorteland, ens.
  • Om die nagedagtenis van biologiese familielede te eer deur ‘n kers aan te steek, ‘n spesiale gebed saam te bid, ‘n brief vir hulle te skryf of ‘n prentjie vir hulle te teken.
  • Vertel die verhaal van hoe jou gesin bymekaar gekom het, vrae vra en deel kosbare herinneringe.

CPI SA is ‘n nie-winsgewende organisasie wat betrokke is by die opheffing van gemeenskappe deur inisiatiewe soos voedselverspreiding, pleeghuise, dagsorgsentrums en versorgingstehuise. CPI SA beskerm weerlose persone deur kinderhowe kinder-vriendelik te maak, en berading en trauma-ondersteuning vir mishandelde kinders, asook voedingsprogramme aan te bied. Die innoverende ingryping bevorder onderwys en maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling. Besoek gerus https://cpi-sa.org.za/donate/ om te kyk waar jy ‘n verskil kan maak.

As deel van CPI SA se poging om bewustheid oor aanneming in Suid-Afrika te skep, vra ons die publiek om die woord SMILE na 40112 te SMS om R20 aan CPI SA te skenk. Hierdie donasie sal ‘n groot verskil maak in die lewens van die kinders in ons pleeghuise en versorgingshuise.

*Elke SMS kos R20 en termes en voorwaardes geld.

Om Internasionale Aannemingsdag te vier, teken ‘n glimlaggesiggie (smiley face) op die palm van jou hand, neem ‘n foto daarvan en plaas dit op sosiale media met die hutsmerk #WorldAdoptionDay.

Vir media navrae kontak: 

Dinah Bronkhorst – Uitvoerende Hoof

Sel: 072 126 1158